Europese Hulporganisasies en Vrywilligers tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899 - 1902)
Europa se opvatting oor die Boere voor en tydens die Tweede Vryheidsoorlog moet onderskei word van eerstens die sienswyse van die Europese regerings en tweedens die beskouings van die Europese volkere. Geeneen van die Europese magte, dit wil sê Duitsland, Oostenryk-Hongarye, Frankryk of Rusland wou offisieel aan die Boere hulp verleen nie -- en glad nie met wapens aan hulle se kant in die konflik intree nie. Heeltemal anders moet die houding van die Europese volkere gesien word. Hulle het de facto hulde betoon aan die Boerevolk. Daar was 'n alles omvattende simpatie vir die Boere. Nie net uit 'n morele oogpunt nie maar ook prakties. Dus het in die meeste Europese lande hulporganisasies die lig gesien, wat dié volk ondersteun het.
Duitsland
Daar was baie organisasies en verenigings wat hulself aan die Boere gebind het bv. Deutsches Rotes Kreuz, Deutsche Kolonialgesellschaft, Allgemeiner Deutscher Sprachverein en Deutscher Burenhilfsbund. Die belangrikste van hierdie organisasies was die Alldeutsche Verband gewees. Dié het lesings aangebied met vooraanstaande verteenwoordigers van die Boerevolk bv. Andries de Wet en W L Jooste. Teen 1902 het die Alldeutsche Verband al 600.000 Duitse Mark vir die Boeresaak ingesamel. Met dié groot bedrag is sowel Boerekrysgevangenes as konsentrasiekampgevangenes en hul families ondersteun. Ook van groot betekenis was die Deutsche Centrale für Bestrebungen zur Beendigung des Burenkrieges, 'n pasifistiese beweging wat deur baie bekende persoonlikhede ondersteun is. Hulle het binne 'n kort tydsbestek 200.000 handtekenige ingesamel om die strewe te dokumenteer om die oorlog te beëindig.'n Derde belangrike hulporganisasie was die Deutsche Buren-Centrale onder leiding van die skrywer en geleerde Gustav Böhmer. Hulle het onder ander 32 ton skoene, klere en komberse na die Boererepublike gestuur!
Nederland
Onder die groot aantal Nederlandse hulporganisasies (Amajuba Comité te Den Haag, Beschermings-Comité der Vereeniging Helpt Elkaar te Den Haag, Algemeen Nederlandsch Verbond, Nederlandsch Comité voor Transvaal en baie meer) was die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging die belangrikste. Tot Augustus 1901 het dié organisasie 1,3 miljoen Gulde ingesamel en aan die Boere besikbaar gestel. By die vereniging betrokke was die Perskantoor in Dordrecht. Sy hooftaak was om deur middel van persberigte die Nederlandse bevolking se aandag op Engelse gruweldade te vestig.
Frankryk
In Frankryk het die hulporganisasies hul taak hoofsaklik gesien in die verpleging van siekes en die versorging van gewondes. Die belangrikste was die Association des Dames Fransaises (Assosiasie van Franse Dames) en die Union des Femmes de France (Unie van Frankryk se Vroue). Hulle het kos en geneesmiddels en ook 'n volledige toerusting vir 'n veldhospitaal Pretoria en Johannesburg toe gestuur.
Ierland
Die grootste onder die Ierse ondersteuningsbewegings vir die Boere was die Irish Transvaal Committee. Dié was ook een van die radikaalste in Europa. Tydens indrukwekkende opmarse het militêre orkeste gespeel. Gedurende hul massa-optogte van tienduisende mense het hulle die Ierse solidariteit met die Boere onderstreep. Na die eerste paar dae na die uitbreek van die oorlog het daar in Dublin amper burgeroorlog ontstaan. Honderde geboue en mure was beplak met plakkate van die Irish Transvaal Comittee: Enlisting in the English Army is Treason to Ireland!
Wat hierdie Europese bewegings almal gemeenskaplik gehad het, was benewens 'n sterk anti-Engelse houding, veral 'n diep gewortelde simpatie vir die Boere wat beskou is as 'n klein nasie wat ernstig deur 'n wêreldmoontheid geteister en bedreig is.
Kort voor en onmiddellik na die uitbreek van die oorlog het die buitelanders wat in die Boererepublike gebly het, hulle met die Boere vereenselwig en vrywilligerkorps gestige - ek sê bewustelik nie »uitlanders« nie omdat ons in die Suid-Afrikaanse geskiedenis onder dié term hoofsaaklik diegene groepeer wat feitlik Britse onderdane was, wat veral in die goudmynbedryf in die ZAR betrokke was en wat deur die Britse Kroon as voorwendsel gebruik is om Britse inmenging in die politieke van die Boererepublieke te regverdig. Die buitelandse vrywilligers was nie genaturaliseerd nie, hulle het nie burgerskap van die Boererepublieke gehad nie en was dus nie verplig tot diensplig nie. Hulle is nie gedwing om by Boerekommando's aan te sluit of om eie militêre eenhede in die lewe te roep nie. Hulle het vrywillig by die stryd ingeskakel en die slagvelde betree.
Kwaadaardige kritici beweer dat hiedie vrywilligers huursoldate was. Dit is glad nie van toepassing nie! Geen vrywilliger het geld vir sy dienste ontvang nie. In teendeel, hulle het hul reis en hul onderhoud uit hul eie sak gedra of is finasieel ondersteun deur die verskeie Europese hulporganisasies. Die Boererepublieke het nooit die Europese vrywilligers betaal nie.
Die internasionale vrywillige eenhede was alles behalwe homogeen. Onder hulle was boere en soldate, mynwerkers en goudgrawers, onderwysers en geneeshere, Duitse grawe, Franse beroepsoldate, Russiese politici, Ierse revolusionêres, Nederlandse advokate en Skandinawiese fortuinsoekers.
Meestal word in die literatuur die totale aantal Europese vrywilligers wat aan Boerekant geveg het, as ongeveer 2.000 aangegee. Dít is net 'n naastenbye saktting. Volgens die amptelike Britse statistiek het 2.110 »foreign elements« saam met die Boere geveg. Die Ierse oorlogskorrespondent Michael Davitt skryf in sy boek The Boer fight for freedom van ten minste 3.700 mense. Navorsing aan die Oorlogsmuseum in Bloemfontein het aan die lig gebring dat daar nie minder as 5.000 Europese vrywilligers betrokke was nie. Die werklike aantal vrywilligers sal nooit akkuraat kan vasgestel word nie. Daar was nie werwingskantore wat oor noukeurige lyste beskik het nie.
Gevegseenhede isdeurlopend gestig, onderverdeel, ontbind, herenig, ensovoorts. Op grond van my eie navorsing neem ek aan dat daar meer as 3.000 Europese vrywilligers aan die Boerekant geveg het, maar net 'n klein deeltjie van hulle het ook aan die tweede fase van die oorlog deelgeneem.
Verder is dit belangrik om te vermeld dat daar nooit »suiwer« Europese of »suiwer« Boere-eenhede was nie: So het die Nederlander Henri Slegtkamp eers by die Duitse Korps onder kolonel Adolf Schiel aangesluit en na die slag van Elandslaagte na die verkennerkorps van kaptein Edwards oorgeskuif -- waar onder ander ook die Skot Jack Hindon dapper geveg het.
Aan die ander kant het die broers Deneys und Hjalmar Reitz, seuns van die onoortreflike staatsekretaris van die ZAR en voormalige president van die Oranje-Vrystaat, hul Boerekommando verlaat om in die Duits-Oostenrykse verkennerskorps onder leiding van Baron von Goldeck te veg.
Die vrywilligers moet dus in drie kategorië verdeel word:
* Eerstens was daar die Europeërs wat voor die uitbreek van die oorlog reeds in die Boererepublieke woonagtig was. Hulle moet egteronderskei word van dié wat hul oorspronklike burgerskap behou het en dié wat Boereburgerskap aanvaar het. Laasgenoemde tel nie meer onder Europese vrywilligers nie.
* Tweedens dié buitelanders van oorsee wat by die verskeie Europese vrywilligerskorpse aangesluit het.
* Derdens dié buitelanders van oorsee wat by die onderskeie Boerekommando's aangesluit het.
Europese Ambulanse
Benewens die militêre eenhede was daar 'n indrukwekkende aantal ambulanse wat die Boere en hul Europese vegsgenote ondersteun het. Die mediese eenhede was nie aan die Rooi Kruis verbonde nie maar was uitsluitlik toegerus en gefinanseer deur middel van skenkings uit hul tuislande. Ons weet van die Ierse- Amerkiaanse Ambulans onder dr. P OþConnor, die Belgiese onder dr. Coolen, die Russies-Nederlandse onder drs. Kucharenko, Von Rennenkampf en Rijckevorsel, die twee Nederlandse ambulanse onder dr. G Lingbeek en dr.Koster, twee Duitse (met sterk Vlaamse deelname) ambulanse onder dr. Ringal en dr. Hans Strehl, die Skandinawiese onder dr. Biedenkap en self 'n Joodse onder leiding van Bension Aaron. Einde Februarie 1900 was daar nie minder nie as 54 buitelandse mediese doktors wat hulp verleen het aan gewonde Boere en gewonde vrywilligers.
Duitse Korps
Die Duitsers was die eerste buitelanders wat by die regering van die ZAR aansoek gedoen het om 'n eie eenheid in die lewe te roep. Die dryfkrag agter die inisiatief was Adolf Schiel, sjef van die Gevangenisdiens in die Transvaal, en Richard Albrecht, bevelvoerder van die Vrystaatse artillerie, wat hy volgens Duitse voorbeeld opgebou het. Selfs die uniforms het gelyk soos dié van Pruise. Adolf Schiel het die baie goed georganiseerde Duitse Kommando Johannesburg gestig wat minstens 400 man sterk was.
Reeds 'n paar dae na die katastrofiese neerlaag by Elandslaagte, waar die Duitse Korps onder Schiel bynauitgewis is. Die weiniges wat oorleef het en nie gevange geneem is nie, is onder leiding van graaf Von Albedyll weer hergroepeer en deur nuwe vrywilligers versterk. Sowat 230 vrywilligers het toe na die front in die Vrystaat beweeg waar hulle met 'n ander Duitse groep onder leiding van die Elandslaagte-oorlewende Georg Badicke verenig is en onder die naam »Deutsches Freikorps« of Vrystaatse Duitse Korps bekend gestaan het. Kaptein Fritz Brall sou oor hierdie korps bevel voer. As gevolg van persoonlike rusies tussen die Duitse offisiere was dit egter nie moontlik nie om een groot en sterk Duitse eenheid -- Schiel se droom -- te verwesnelik nie.
Onder luitenant Paul Kranz is daar 'n verdere Duitse Korps gestig: die Duitse Korps Pretoria met sowat 200 vrywilligers.
Ander Duitse eenhede was onder luitenant Hans Ulrich von Quitzow in die Vrystaat, onder luitenant Fritz Runck tydens die Slag van Spioenkop, onder luitenant Pollmann van die Johannesburgse Polisie tydens die slag van Colenso, die Duitse Korps Lorenz by Brandfort en die drie korpse Goldeck, Schulz en Meier naby Springs in Julie en Augustus 1900 by Dalmanutha.
Nederlandse Korps
Die Nederlanders het 'n vereniging gestig met die naam Corps van Nederlanders en Oud-Nederlanders wat onder leiding van staatsadvokaat Hermanus J. Coster gestaan het. Saam met die onderwyser Cars Geert de Jonge, wat sekretaris van onderwys en opvoeding in die ZAR was, het hy die Nederlandse Korps in die lewe geroep. Sowat 450 mans het onder die leiding van Jan Lombard gestaan -- 'n gedeelte van hulle het by Elandslaagste dieselfde lot getref as hul Duitse kamerade.
Ierse Brigade
Die Ierse Brigade het dit verkies om hulself die Korps van Wraaknemers (The Avengers Corps) te noem, om aan hul genot en voldoening uitdrukking te gee, dat hulle die geleentheid kon waarneem, om teen hul erfvyand, Engeland, te veg. Die Brigade was onder die bevel van John Blake en John McBride. Die vegeenheid was sowat 300 man sterk, waaronder ook 'n aantal Franse was.
Onder die leiding van Arthur Lynch, 'n Ierse-Australiër, het die Iere 'n tweede eenheid gestig wat onder die naam Tweede Ierse Transvaal Brigade bekend gestaan het. Hierdie korps se sterkte was tussen 40 en 150 vrywilligers. Benewens die Ierse kontingent was daar ook Boere, Bulgare, Duitsers, Franse, Nederlanders, Italianers, Russe en Skandinawiërs betrokke. Dit het dus 'n internasionale karakter vertoon.
Skandinawiese Korps
Die voorsitter van die kulturele Skandinawiese Organisasie was die Sweed Christer Uggla gewees. Uit daardie organisasie het op 23 September 1899 in Pretoria Het Skandinawiesche Vrijkorps onstaan. Uit hulle geledere was 139 Skandinawiërs bereid om diens met die wapen te doen, terwyl þn verdere 51 logistiese take verrig het. Later is die Korps versterk deur sewe Duitsers - - waaronder die Jood Gustav Lindenberg uit Klerksdorp, wat insluiting in Schiel se Korps geweier was -- drie Nederlanders, twee Russe en een Engelsman. Die Korps het onder die leiding van kaptein Johannes Flygare gestaan. In Suid-Afrika se geskiedenis het die Skandinawiërs tydens die slag by Magersfontein roem verwerf. Die paar oorlewendes uit hierdie bloedbad het onder leiding van die Deense Kaptein Jens Friis en die Sweedse luitenant baron Helge Fägerskjöld 'n nuwe eenheid gestig wat by Paardeberg geveg het waar genl. Piet Cronjé oorgegee het.
Franse eenhede
Daar was nie eintlik 'n Franse Korps nie. 'n Belangrike rede hiervoor was dat die Franse konsul die entoesiastiese vrywilligers gewaarsku het dat deelname aan die gevegte tot verlies van die Franse burgerskap sou lei. Die meeste Franse het dus by die Polisie aangesluit of in die garnisoene gedien. 'n Klompie baie oortuigde Franse vrywilligers het egter die waarskuwing van hulle diplomatieke verteenwoordiger geïgnoreer en ook by ander eenhede van die vrywilligers aangesluit, byvoorbeeld luitenant Chateauvieux by die Duitsers, of by Boerekommando's aangesluit, soos Robert Kersauson de Pennendreff en prins Louis de Orleans et Braganza wat onder die skuilnaam Louis Merey aan verskeie gevegte deelgeneem het. 'n Egte Franse eenheid, die sogenoemde Franse Vrywilligerkorps, het na die tot niet gaan van die Internasionale Legioen die lig gesien en het onder die bevel van luitenant Ernest Gallopaud gestaan. Kolonel Georges Comte de Villebois-Mareuil, 'n Franse beroepsoldaat en voormalige kommandeur van 'n elite-eenheid binne die Franse Légion Etranger (Vreemdelinglegioen) was die hoof van die Internasionale Legioen. Sy adjunk was die Russiese kolonel Yevgeny Yakovlevich Maximov. Kort na genl. Piet Cronjé se oorgawe by Paardeberg einde Februarie 1900 het Villebois probeer die oorblywendes van Europese eenhede tot een magtige militêre masjien saam te smelt. Hierdie Internasionale Legioen het hoofsaklik bestaan uit Nederlandse en Franse vrywilligers. Hulle was van plan om die eenheid tot 1000 man uit te bou: Die invoeldryke Nederlandse offisier baron Van Dedam de Gelder het in Europa vrywilligers gewerf, Ernst Freiherr von Wrangel was verantwoordelik vir die rekrutering van Duitsers in Pretoria en Ernest Gallopaud was betrokke by die Franse wat vanaf Delagoabaai aangekom het. Daarbenewens het Villebois -- wat as enigste Europese vrywilliger kort tevore tot generaal bevorder is -- op 30 Maart 1900 'n brief aan sy kamerade van die Vreemdelinglegioen geskryf en hulle aangemoedig en gevra dat hulle by hom moet kom aansluit.
Nóg Europese vrywilligers
Benewens bogenoemde groter eenhede het ook kleiner korpse die lig gesien. Een van hulle was die Italiaanse Korps met 'n bemanning van sowat 100 vrywilligers. Hulle het onder bevel van kaptein Camillo Ricchiardi gestaan. Daar was ook tussen 100 en 225 Russe, wat saam met die Boere geveg het. Ook 'n aantal Griekse emigrante het vir die Boere se vryheid geveg.
Verder was daar ook omtrent 50 Amerikaners onder kaptein John A. Hassell. Die meeste van hulle was òf van Ierse òf van Duitse afkoms, soos bv. Otto von Lossberg van Louisiana wat onder generaal Piet de Wet in bevel van die kanonne was. Nog 'n Amerikaanse eenheid was die Chicago Irish-American Volunteers korps onder kaptein Patrick O'Connor. Hulle het later by die Ierse Brigade van kolonel John Blake aangesluit en onder andere deelgeneem aan die slag van Dalmanutha in Augustus 1900.
Ten slotte
Afsluitend wil ek dit duidelik stel dat die voedingsbodem vir die internasionale pro-Boer
beskouings gelê het in 'n Europese houding van 'n gees wat vandag glad nie meer
bestaan nie: Voor die Eerste Wêreldoorlog was daar 'n gemeenskaplike onvoorwaardelike
bewondering vir deugde soos dapperheid, pligsgetrouheid en vryheids- en vaderlandsliefde.
Volgens die Europese volkere was die Boerevolk die draers van dié deugde wat vir
hulle as voorbeeld gedien het en wat nagestreef en uitgeleef kon word.
Dít is die hoofrede hoekom in alle stamlande van die Boere (Duitsland, Nederland en
Frankryk) die simpatie -- ja die begeestering! -- vir die Boerevolk teenwoordig was in alle
beroepe en sosiale klasse asook in die meeste politieke kringe en beskouings in Europa. Dit
is hoekom op daardie stadium onder die Europese volkere daar 'n drang te bespeurbaar was, om
'n klein nasie, naamlik die Boerevolk, wat as 'n broedervolk beskou is, by te staan in sy
desperate stryd om sy toekoms en sy eie voorbestaan.
Hierdie artikel is vir die eerste keer gepubliseer in Die
Afrikaner (14 Maart 2000)
Dr. Claus Nordbruch is die skrywer van die koffietafelboek The European Volunteers in
the Anglo-Boer War 1899-1902 (ISBN 0-9584131-8-5) [ook in Duits en
Frans], en van die boek Vir Vryheid en Reg (ISBN 0-9584313-1-0)
wat dieselfde tema baie intensief behandel. Daar het ook verskeie ander geskiedkundige boeke
deur dié skrywer die lig gesien, o.a. Reguit. Onthullings en Gesprekke oor
Suid-Afrika se Geskiedenis 1989-1997 (ISBN 0-9584131-4-2). Kyk gerus
op ons tuisblad vir verdere inligting.
© Dr. Claus Nordbruch